Die Herout
Jaargang 43
Julie 2021
Foto: Bemarking Bulletin

Dee-Effers, verbeel julle ’n DF waar Doughnut Donderdae net nóg ’n Donderdag is en ARK-Week, net nóg ’n week. Dit sal ’n tragiese realiteit in ’n DF sonder ’n passievolle bemarkingskomitee wees.

Die Bemarking Bulletin is in 2017 deur Hendré Cubitt gestig.

Hendré was laat vir die vergadering waar die dagbestuur hulle portefeuljes vir die jaar sou ontvang. As straf vir sy laatkommery is hy daar en dan verkies as leier van die bemarkingskomitee (op daardie stadium ook bekend as die “afskeepkomitee”).

Hendré het dit egter van die begin af duidelik gemaak dat hy koning op sy eie mishoop sou kraai en het die fondament gelê vir die Bemarking Bulletin soos ons dit vandag ken en liefhet. Die skepper van die goue mikrofoon, Bemarking Bulletin-logo en Youtube-kanaal is seker ’n legende in eie reg.

In 2018 is Charisa Geyer as Hendré se opvolger verkies. Sy het die komitee bestuur met Jaco Wagener as haar regterhand en houer van die gewilde goue mikrofoon.

In 2019 was Petrus du Preez leier van die Bemarking Bulletin. Jean van Schalkwyk het hom in 2020 gevolg.

In 2020 is ons egter getref met ’n grendeltydperk! Die grendeltyd het baie uitdagings vir die bemarkingskomitee ingehou. Hoe doen ’n mens bemarking en bou gees te midde van ’n pandemie, met ’n skoolgebou wat verlate staan sonder die voetstappe en stemme van DF-leerders?

Die Bemarking Bulletin het in 2021 weer sy volle glorie bereik onder leiding van Arnold Hattingh. (Dis die ou wat in die bome sit tydens die bemarkingfilms.)

Die Bulletin sien uit daarna om hul nuwe projek, Bemarking Bulletin: an Originstory met die skool te deel. Dit wys hoe elke lid van die komitee daartoe bygedra het om dit te maak wat dit is.

Ek het by Arnold gaan hoor wat presies agter die skerms plaasvind en wat die doelwit van die Bemarking Bulletin is.

Volgens Arnold is “geen beplanning die beste beplanning” by die maak van Bemarking Bulletin-video’s: Wanneer die komitee vergader, gesels hulle eers oor potensiële video-idees. Daar is geen agenda nie. Hulle gesels net en skryf alle snaakse of interessante idees neer. Arnold sê hulle skryf daarna ’n “soortvan-_script_”, maar dit dien liewer as ’n rowwe buitelyn. Die komitee kom bymekaar om die video af te neem. Hier praat hulle eers die teks deur en voeg nog idees by. Dan het hulle ’n beplande storielyn, maar nog nie sekerheid oor hoe elke skoot sal verloop nie. Hulle sal gereeld “improviseer om die detail van die shot te kry.”

Dit is dus ’n in-die-oomblik-proses om die skoolgees outentiek vas te vang.

Arnold sê die bemarkingskomitee streef daarna om humoristies te wees en Dee-Effers se lagspiere te prikkel. Hy glo drie belangrike elemente van ’n treffende Bemarking Bulletin-video is komedie, die goue mikrofoon en ’n goeie storielyn.

Hy sê: “Ons probeer om ons mede-Dee-Effers se Hoërskoolloopbaan so opwindend en memorable moontlik te maak!’’

Die Bemarking Bulletin is grootliks verantwoordelik vir DF-gees. Hul slagspreuk lui: “Vir die leerders, deur die leerders”.

Lees Verder

Black Lives still Matter

Emma Craucamp

Besoek aan Calling Academy

Kaylin Grobler

Brei nie so outyds as wat jy dink nie

Janike Smith

Bitter en soet kry oorsprong uit evolusie

Mia Groenewald