Die Herout
Jaargang 43
Julie 2021
Foto: Bianca Stander

In September 2019 het die Hoërskool DF Malan op die voorblad van Die Burger verskyn. In Junie 2020 is ’n Instagram-rekening “ter ere” van ons skool se naam geskep. Vir ’n rukkie was die naam DF Malan op almal se lippe. Alhoewel hulle sê “there is no such thing as bad publicity”, is ek seker dat ’n hele klompie van ons anders gevoel het oor die manier waarop ons skool in die media uitgebeeld was.

Die aanslag op ons skool was grootliks gemik op ons naam, maar dit het ook verskeie kwessies na vore gebring wat oor veel meer as blote simboliek gaan. Die kern van hierdie kwessies was, waarvoor staan ons en hoe sien ons die toekoms van ons skool in ’n Suid-Afrika wat drasties verskil van die land wat dit in 1954 was? Gevolglik is dit besluit om hierdie kwessies ten volle te ondersoek en tussen al die stemme ’n konsensus te bereik van wat ons DF-gemeenskap regtig voel.

Die skool het versoeke aan kundiges gerig om voorstelle te maak van hoe om die kwessie van ons naamsverandering aan te pak. Die voorstel van dr. Frederick Marais, teoloog aan die Universiteit van Stellenbosch, het aanklank gevind by die beheerliggaam. Gevolglik is ’n taakgroep van 16 personeel, alumni, beheerliggaam-lede, ouers en leerders uit uiteenlopende agtergronde saamgestel. In Desember 2020 het die taakgroep met dr. Marais vir die eerste keer byeengekom.

In ’n onderhoud met Andries Harmse (hoofseun en lid van taakgroep) het hy vertel dat dr. Marais ’n kwalitatiewe proses voorgestel het wat die gevoelens van die gemeenskap in ag neem, i.p.v. ’n kwantitatiewe proses van stemming wat ’n situasie van wenners en verloorders skep. Toe die proses in Desembermaand begin het, was die uiteindelike onderwerp van die proses, “die skool waarvan ons droom”, nog nie vasgestel nie. Daar is ook nog nie besluit op die metode (uiteindelik gesprekvoering) wat die proses sou behels nie. Eers na die taakgroep die insette van verskeie kundiges op die gebiede van politiek, herbenaming en maatskaplike kwessies ontvang het, kon die groep ’n ingeligte besluit neem oor die pad vorentoe.

Die doel was om ’n toekomsgerigte, deursigtige, inklusiewe proses te skep waar die menings van die breër skoolgemeenskap in ’n veilige ruimte gehoor kon word. Alhoewel die proses toekomsgerig was, was die doel dat dit steeds respekvol aan die geskiedenis van die skool moet wees. Die doel is saamgevat in die algehele onderwerp van die gesprekke, “die skool waarvan ons droom”. Uitnodings vir die gesprekke is uitgestuur aan alle lede van die skoolgemeenskap en elke gesprek is deur twee lede van die taakgroep gefasiliteer. Vyf vrae is in die vergadering bespreek waarop almal ’n kans gekry het om te antwoord. Elke antwoord is skriftelik opgeneem. Die vrae het gehandel oor wat die deelnemers dink DF uniek maak, watter veranderinge die deelnemers in die skool en gemeenskap waargeneem het oor die afgelope paar jaar en wat omtrent DF die deelnemers angs en hoop vir die toekoms gee.

Die data van elke gesprek is na die Universiteit van Stellenbosch gestuur om verwerk te word, waarna ’n verslag opgestel is. Die gevolgtrekking van die verslag was dat dit in die skool en gemeenskap se belang is om die naam van ons skool te verander.

Een van die doelwitte van hierdie proses was om regtig te luister en die gemeenskap deel te maak van die besluitnemingsproses oor nie net ons skool se naam nie, maar die toekoms van ons skool. Andries noem dat hy baie uit hierdie proses geleer het. Hy het veral baie oor konflikhantering en die belangrikheid van ander se menings hoor, geleer. “Jy gaan nêrens in die lewe kom deur ongeskik en hardkoppig te wees nie,” het Andries bygevoeg. Dit wat hy geleer het, is ek seker het baie wat aan hierdie proses deelgeneem het, ook geleer.

Hierdie proses is egter alles behalwe klaar, met ’n nuwe komitee wat die nuwe naam nog moet kies en instel. Tog het ons baie vordering oor die afgelope paar maande gemaak met dié dat ons op ’n volwasse manier ’n moeilike kwessie kon aanpak en aksie in werking kon stel om die gemeenskap se griewe aan te spreek.

Dit gaan vir ’n tydjie vreemd wees om afskeid te neem van ons DFM. Wat ook al die nuwe naam mag wees, is ek egter hoopvol dat dit die ware karakter van ons geliefde skool sal weerspieël, waarop ek altyd trots sal wees.

Dokumente met meer inligting oor die gevolgtrekkings van die proses kan onder “nuusbriewe” op die skool se webwerf afgelaai word.

Lees Verder

Bangmaakstories die oorsprong van bekende feëverhale

Jana Burger

Bitter en soet kry oorsprong uit evolusie

Mia Groenewald

Ballet – kuns in beweging

Juliette Behr

Brei nie so outyds as wat jy dink nie

Janike Smith