Die Herout
Jaargang 43
Julie 2021
Foto: Bianca Stander

Soos die idioom sê, is dit beter om versigtig te wees as om later spyt te wees oor die gevolge van ondeurdagte aksies.

Op 19 Mei 2021 het die Departement van Basiese Onderwys aangekondig dat die wedstryde van kontaksporte, bv. hokkie, netbal en rugby, by alle skole onmiddellik gestaak moet word. Oefeninge van kontaksporte mag egter aangaan met fiksheid indien afrigters en spelers alle Kovid-19-veiligheidsmaatreëls volg. Met skole wat nou gesluit is, is die toekoms van daardie oefeninge ook egter onseker.

Daar was ’n duidelike styging in die aantal Kovid-gevalle toe kontaksporte weer dié jaar toegelaat is. Soos oudleerder dr. Barry Smith verduidelik, versprei Kovid-19 vinnig in hoërskole en ons moet gevolglik alles in ons vermoë doen om verspreiding daar te beperk. Alhoewel dit duidelik nodig is om stappe te neem om Kovid te beperk, moet ons bewus wees van al die gevolge, positief en negatief, wat sulke maatreëls op die lewens van mense kan hê.

Moontlike negatiewe gevolge is dat spelers nou minder gemotiveerd is om fiks te bly, omdat hulle onseker is oor wat die toekoms inhou. Leerders het ook nou meer vrye tyd en bring meer tyd deur by winkelsentrums, een van die groot plekke van verspreiding. Ons moet aan maniere dink om hierdie gevolge te beperk. Dr. Smith het voorgestel dat leerders in die buitelug moet aanhou oefen, terwyl hulle sosiale distansiëring beoefen. Begin sommer ’n groepie waar julle saam in die buitelug gaan loop of oefen een keer per week. Dit sal jou gemotiveerd hou. Jy kan ook met jou afrigter reël om vir jou ’n persoonlike oefenprogram uit te werk.

Die positiewe gevolge is natuurlik dat die Kovid-syfer daal en die infeksies beter beheer kan word. Ons het ook meer gemoedsrus, omdat ons weet dat ons ons bes doen om onsself te beskerm. Hierdie ekstra tyd kan aangewend word vir ander aktiwiteite, soos ’n stokperdjie, ontspanning of skoolwerk. Dit haal van die druk van ons besige programme af.

Sport en oefeninge hou baie voordele in. Dit is party mense se ontsnapping van die huis af en vir baie ’n tyd wanneer hulle die maalstroom gedagtes in hulle kop kan stilmaak en bloot op hulle liggame kan fokus. Sport is ook voordelig vir konsentrasie, omdat dit die suurstoftoevoer na jou brein verhoog. Trek dus gerus af en toe jou drafskoene aan en geniet ’n bietjie die buitelug. Al mag ons nie meer aan spansport deelneem nie, kan ons steeds die gesondheidsvoordele van sport geniet.

Ons lewe beslis in onseker, moeilike tye. Een ding wat ons wel daaruit leer, is hoe om ons lewens aan te pas by nuwe uitdagings. Hou moed en hou aan, DF.

Lees Verder

“Belangrikste ete van die dag” – is dit werklik so belangrik?

Nienke de Vaal

Biblioteke: toevlug vir oorlogslagoffers

Renska Krynauw

Beperk ons kuns te veel of te min?

Emma Olivier

Ballet – kuns in beweging

Juliette Behr