Die Herout
Jaargang 43
Julie 2021
Foto: Renke Lorio

Boeke. Iets wat orals rondom ons te vinde is. Met die druk van ’n knoppie kan ons deesdae toegang kry tot ’n hele nuwe denkbeeldige wêreld waar ons ons kreatiwiteit, wat binne ons rondworstel, kans kan gee om uitgeleef te word; waar ons ’n kans kry om van die alledaagse spanning weg te breek.

In ’n plek wat deur oorlog verwoes is en hongerte elke inwoner se gedagtes oorheers, sou jy beslis nie verwag om ’n groot belangstelling in boeke te vind nie. Dit is egter juis die teenoorgestelde.

In Darayya, ’n voorstad van Damaskus, Suid-Wes van die oorloggeteisterde land, Sirië, onder die puin van gebombardeerde geboue, lei trappe af tot ’n swak-beligte kamer. Dié kamer is vir die inwoners ’n plek van hoop en inspirasie; ’n plek om, vir selfs net ’n paar minute, te vergeet van die gevaar wat buite dreig, om die angs vir hul lewe net vir ’n rukkie te laat verdwyn. Hiér kry hulle ’n kans om te ontspan, terwyl hulle na fiktiewe wêrelde reis, lees oor die innerlike konflik wat Hamlet ervaar of om betower te word deur die magiese krag van poësie. Maar dit is ook die plek waar kinders, leerders en studente die geleentheid kry om onderwys en opleiding te ontvang en waar onvolledig-opgeleide onderwysers hulp kry om lesse voor te berei of mediese personeel, insluitend tandartse en vrywilligers wat by hospitale werk, advies kan kry en hul kennis en vaardighede kan uitbrei om hul gemeenskap te versorg.

Om die beskikbaarheid en verskeidenheid van boeke uit te brei, waag vrywilligers aanhoudend hul lewens. Hulle grawe onder lewensgevaarlike omstandighede deur geruïneerde geboue en puin, wat dikwels naby die vyand se basis lê, om agtergelate boeke te versamel. Dit mag dalk mal klink, maar hierdie mense sê dat hulle bereid is om dit te doen omdat hulle weet hoe dit die gemeenskap bevorder en versterk en op baie verskillende maniere help. Die ligging van die biblioteek word egter geheim gehou sodat dit nie deur die opposisie geteiken sal word nie.

In ’n onderhoud is een van die inwoners gevra of dit nie meer sinvol sal wees om eerder voedsel as boeke te soek nie. Sy antwoord was dat, net soos jou liggaam voedsel benodig, jou siel ook boeke benodig en dit blyk die hele omgewing se mentaliteit te wees. Selfs die Free Syrian Army-vegters neem boeke saam na die voorste linies, waar daar mini- biblioteke by elke verdedigingspos te vinde is. Een vegter vertel dat ’n mens gereeld vegters sien met ’n geweer in een hand en ’n boek in die ander. Ongelukkig het hierdie boekliefhebbende vegter, soos duisende ander, sy lewe in die oorlog verloor.

In ’n plek van vernietiging, hongerte, vrees en dood is boeke die één ding wat die inwoners ondersteun en motiveer om nie moed op te gee nie. Vir ons om ’n boek in die hande te kry, kos min of meer R150, maar vir die inwoners van Darayya kan dit hulle lewens kos.

Lees Verder

“Beter bang Jan as dooie Jan” by sport

Leanri Pretorius

Besoek aan Calling Academy

Kaylin Grobler

Boston: die verhaal agter ons woonbuurt

Dehan Lotz

Bemarking Bulletin: ’n oorsprongstorie

Kyla van der Riel